| My gebed vir my dierbares
			
				
					| 
					 | Here, vandag bring ek al my kinders, kleinkinders, skoonkinders en 
		agterkleinkinders na U toe. Hulle moet hul weg baan in 'n wrede 
		samelewing. Hulle moet besluite neem, verantwoordelikheid aanvaar vir 
		hul onderskeie dagtake en die aanslae van 'n wrede wêreld die hoof bied. Here, vir elke besluit wat hulle moet neem, herinner hulle dan asseblief 
		daaraan dat dit so maklik is om die regte besluit te neem as hulle net 
		vinnig oogkontak met U maak en vra wat U sou sê. |  
					|  |  |  |  As hulle in die versoeking kom, Heer, herinner hulle dan daaraan dat U 
		aan dieselfde versoekings van die bose onderhewig was as waaraan hulle 
		nou blootgestel word. U weet hoe wreed die lewe ons kinders vandag 
		behandel – as hulle dit miskien net vir 'n oomblik vergeet en hulle laat 
		haal hulle oor vir 'n verkeerde daad, sien asseblief in U Groot Genade 
		op hulle neer en vat hulle hande en sê vir hulle dieselfde wat U al so 
		baie keer in my lewe vir my gesê het: “Nie daarlangs nie, My kind, kom 
		hierlangs. Hierdie pad is miskien moeiliker, maar Ek loop ook hierlangs 
		en My Hand is vir julle uitgestrek.”
 
 Heer, en as hulle vandag na hulle werkplek of skool toe gaan, stap 
		asseblief saam met hulle daarin. U weet dat hulle selfs nie vir die 
		geringste taak opgewasse is as dit nie vir U Genade is nie. Herinner 
		hulle dan ook telkens daaraan dat hulle alles vir U mag vra. Ek wil 
		getuig, Heer, U het my nog nooit in die steek gelaat nie – ek glo dat al 
		wat U wil hê is dat ons net eers met U oogkontak moet maak.
 
 Bewaar hulle asseblief teen die aanslae van die bose, Heer. Alles rondom 
		hulle is so aanloklik. Hulle sal U Krag in alles so nodig hê, Heer, en 
		ek kom vra, bou U Self vir hulle 'n weerstand op teen die versoekings 
		rondom hulle.
 
 Hier is hulle nou, Here, voed hulle asseblief verder op. Laat hulle 
		verstaan dat geen plant mooi sal groei en vorm en vrugte kan dra as daar 
		nie voortdurend aan gesnoei word nie.
 
 Heer, wat 'n wonderlike voorreg dat ek hulle aan U kan oorgee. Leer 
		hulle dat "snoei" 'n pynlike proses is, maar dat U die Salf van U 
		Spoegies aan die seerplekke smeer.
 
 Ons Vader, ek kom vra dit alles vir U in Jesus se naam. Laat U Wil 
		nogtans in alles vir hulle geskied, Heer.
 
 Heer, wanneer ek die dag nie meer vir hulle kan bid nie, hou dan 
		asseblief hierdie gebed van my vir hulle vir ‘keeps’!
 
 AMEN
 |